Vriende en Kollegas
’n Groot man, ’n mentor
“Die wêreld het letterlik braak gelê en ons kon dit ontgin met hom daar iewers op die agtergrond met ‘n effense glimlag op sy gesig.”
Op die lewenspad kom ‘n mens dikwels mense tee wat jou lewe in ‘n nuwe rigting stuur sonder dat jy op daardie oomblik besef presies hoe drasties die verandering uiteindelik gaan wees. Generaal Hein du Toit was daardie persoon in my lewe.
In 1974 was ek besig met my finalejaar studies by die Militêre Akademie op Saldanha. Generaal du Toit daag toe daar op en verduidelik aan die studente waaroor Militêre Inligting nou eintlik gaan. Hy vra toe dat diegene wat meer wil weet, hulle name moet neerskryf, en ek maak toe so. Groot was my verbasing toe ek by die Vloot aankom en agterkom dat ek nou ‘n lid van Militêre Inligting is. Ek het my nie veel daaraan gesteur nie en met my Vlootloopbaan aangegaan. Einde 1977 is ek toe klaar met al my Vlootopleiding en besef toe ek moet na byna ‘n jaar se reeks kursusse terugkeer na my pos as 2de in bevel van ‘n klein vaartuig. Ek besluit toe om Generaal du Toit se opsie te gaan beproef, maar hy was toe reeds nie meer daar nie. Na 2 jaar se opwindende werk op die Angolese front beland ek toe in Portugal, dit alles weens Generaal du Toit se “aas”. By my terugkeer in 1983 kry ek eendag ‘n oproep uit die bloute uit van dieselfde Generaal du Toit en hy sê ek moet ‘n Honneurs in Nasionale Strategie onder hom kom studeer by RAU. Natuurlik vertel ek hom toe dat ek onmoontlike ure werk, maar hy was ‘n man wat nie nee vir ‘n antwoord gevat het nie. So begin ons toe ‘n pad saam stap.
Ek moes by een geleentheid twee hoofstukke uit ‘n boek oor Kernstrategie, geskryf deur die befaamde Professor Raymond Aron, opsom, afskrifte maak van die opsomming en dit met my medestudente bespreek. Die een hoofstuk het sin gemaak en ek het dit opgesom, maar die ander hoofstuk het geen sin gemaak vir my nie. Die aand sê ek dan ook so en Generaal du Toit sê ek moet hom na die klas na sy kantoor vergesel. Soos sy gewoonte was, gaan sit hy op die stoel se rugleuning met sy voete op die sitplek en begin daardie sirkel met die nommers draai en die uiteindelike gesprek het naastenby soos volg verloop: My liewe vriend Aron ek het hier ‘n student wat sê hoofstuk xx van jou boek xx maak geen sin nie.” My oë rek en my hart sak in my skoene; wat maak die man dan nou! ‘n Lekker lag aan die anderkant en: ”My goeie vriend Hein, sê vir hom hy is heeltemal reg, ek het ‘n bietjie verdwaal geraak in my eie argument.” Die les vir Koos Louw was: Moenie met hierdie man kanse vat nie en hierdie man het vriende in hogere kringe.
Dit was veel meer as studeer dit was ‘n periode van opvoeding in ‘n relatief nuwe vakgebied. Ons studente het by sy huis bymekaar gekom op Saterdagoggende, iets geëet of selfs gebraai, ‘n glas rooiwyn of twee gedrink en die vakgebied bespreek. Hy het die interessantste lektore genooi om ons te kom toespreek oor spesifieke onderwerpe, Rommel se Stafoffisier het kom verduidelik oor die Duitse Stafstelsel in die Tweede Wêreldoorlog. Die pas afgetrede Hoof van NAVO het ‘n lesing oor die Falkland-Oorlog kom gee. Generaal du Toit het die kursus lewendig en prakties gemaak met die klem op die praktyk.
Met die Honneurs afgehandel, sê hy toe ek moet ‘n Meesters doen en ek steek vas en sê nee ek het te veel respek vir hom om halwe werk in te handig. Die werklas en tempo het net te veel geraak. Toe raak hy weer ‘n lewenswysheid kwyt: ‘ Koos Louw jy gaan nooit weer enigiets 100% gedoen kry nie, jy moet leer om alles na die beste van jou vermoë, binne die tyd beskikbaar te doen anders gaan jy niks gedoen kry nie.” Hy gee toe vir my die onderwerp wat ek moes navors: ‘ Is daar reëls vir die bedryf van koverte aksie?” Daar begin toe drie jaar van navorsing, die beredenering van elke stelling, die weeg van elke woord en ek leer die Generaal nog beter ken, asook sy Duitse Herdershond wat toe blyk van Belgiese afkoms te wees met webbe tussen sy tone en ‘n besonderse swem vermoë. Die Generaal se kennis van ons nasie se geskiedenis, sy kennis van ons taal (hy het geen slordige taalgebruik geduld nie), sy logika wat nie toegelaat het dat daar in systrate afgedwaal word nie en bo alles sy kennis van die beginsels van Inligting. Sy wonderlike droë sin vir humor met daardie laggie wat ‘n mens herinner het aan ‘n bad se prop wat uitgetrek is en wat absoluut aansteeklik was. Die sertifikaat hang nou ook hier agter my lessenaar, maar veel belangriker is die gesprekke wat nuwe insigte gebring het en die lewenslesse wat gratis oorgedra is.
Hy het andere se sienings gerespekteer. Ons het byvoorbeeld drasties verskil in ons siening oor Dr Savimbi. Die Generaal het ‘n hom hoog aangeslaan, terwyl ek sy organisasie se drieledige slagspreuk, Patriotisme, Sosialisme en Swartmag ondersteun deur sy Mao pakke ten sterkste bevraagteken het. Ons kon dit bespreek sonder om warm onder die kraag te raak en het uiteindelik besluit om te verskil oor die onderwerp.
Ek het teruggekeer na die SA Vloot en bevelvoerder geword van die eenheid waar integrasie sou plaasvind. Ek het hom in Pretoria besoek en my planne oor hoe om dit te benader met hom bespreek en hy het my sienings meestal gesteun met hier en daar klein verstellings. Ek kon die taak met vertroue aanpak en dit het gewerk. Toe word ek aangestel as Direkteur Buitelandse Betrekkinge en daar het sy afrigting en voorbereiding uiteindelik ten volle tot wasdom gekom. Ek kon hom as klankbord gebruik vir watter strategie t.o.v. watter land gevolg moet word. Slaggate en hindernisse met hom bespreek en sy wysheid tap. Watter wonderlike ervaring om ‘n mentor van sy formaat te gehad het onder daardie omstandighede. Die wêreld het letterlik braak gelê en ons kon dit ontgin met hom daar iewers op die agtergrond met ‘n effense glimlag op sy gesig.
Later jare het ek by hom gaan sit en gesels en die nuwe weermag bespreek. By een so ‘n geleentheid kyk hy na my Franse Legioen van Eer roset en sê ek moet vir ‘n bekende invloedryke sakeman in Kaapstad sê dat as hy die moeite wil doen om sy roset op sy lapel vas te sit dan moet hy ook die moeite doen om te skeer vir die okasie. Generaal du Toit, die man wat die verskil tussen reg en verkeerd verstaan het.
By my aftree-onthaal in Pretoria het hy my met sy teenwoordigheid vereer en toe hy die lokaal binnekom het Admiraal Ernst Penzhorn die Hoof van die Vloot, Amiraal Modimu, se aandag daarop gevestig en gese daardie is ‘n man wat ‘n groot rol in Suid Afrika se geskiedenis gespeel het, ‘n groot man.
Op sy kinders was hy trots en hulle prestasies het hy mooi aan my verduidelik. As hul iets gedoen het waarmee hy nie heeltemal saamgestem het nie het hy dit uitgewys maar met daardie amperse glimlaggie gesê hul is volwassenes wat elkeen haar eie karakter en eie wil het wat hulle besonderse individue maak.
Hy het my nuuskierigheid reg aan die begin van my loopbaan geprikkel, toe het hy my gelos om myself as Vlootoffisier te bekwaam en op die regte tyd by Militere Inligting uit te kom. Daar het hy my weer gelos en op die regte oomblik toegetree en gesê kom hier ek wil aan jou slyp en dit het hy ongemerk baie effektief gedoen. Ek kon tussen Militêre Inligting en die SA Vloot beweeg sonder enige probleme en het ‘n wonderlike loopbaan gehad grootliks te danke aan Generaal Hein du Toit.
Toe hy 90 word het ek hom vir die laaste maal gaan besoek, die waardige man het steeds effens geglimlag as hy my Weskus taal reggestel het. Generaal dit is een stryd wat jy nie heeltemal gewen het nie, ek is nou maar eenmaal ‘n Weskusser.
RIV Generaal ek is dankbaar vir die voorreg om aan jou voete te kon sit en te luister.
Koos Louw
Admiraal (afg)
***
’n Geamuseerde Uil
Ek dink nou al lank in die nag aan jou pa. Dis vreemd dat ons nou omtrent so oud is soos ons ouers was toe ons eers vriende geword het. Jou ma was so groot, sy het julle huis volgemaak met haar glamour, en belangrikke dinge, en haar krissise – dalk ‘n ouer Sophia Loren of Brigitte Bardot maar beslis ‘n vrou uit ‘n Almodovar film. Jou pa was op die periferie, in die stiltes van julle huis, maar altyd daar, iemand wat mens op sou afkom per toeval – skielik was hy daar – in die swembad besig met lengtes, of in sy studeerkamer aan die end van die gang, of in die stoepkamer op die klavier. Amper soos ‘n wilde dier wat mens per toeval teekom – ‘n luiperd, of dalk liewer ‘n geamuseerde uil. Ek onthou hom veral op die klavier. Sulke groot vierkantige hande wat sulke delikate musiek kon maak was vir my altyd iets wonderbaar – en dan as hy ons gesien het het hy jou geroep met ‘n beslisde “Sussie” en dan het jy gemaklik ingeseil langs hom op die klavierbankie en julle het dan ‘n duet gespeel. Dit was vir my altyd so goed om te sien hoe jy sy sidekick was, hoe jy alles intens met hom kon bespreek. Ek is nie seker of ek reg onthou nie want dit was 35 jaar gelede, maar ek onthou dat hy ons gewys het hoe om te wals vir die matriek dans in die musiek kamer. Kan dit reg wees? Jou pa was misterieeus, net elke nou en dan het hy oor sy werk gepraat – ek onthou iets van Clausewitz… Maar ek onthou meer hoe hy so lekker gelag het as jy iets slim gesê het, hy was so trots oor hoe pittig en braaf jou gedagtes was en hoe diep jy oor dinge gedink het. Hy het altyd ons avonture ondersteun. Nou dat ek daaraan dink noudat ek self ‘n meisiekind het was dit so besonders. Al was ons maar toe 17 of 18 kon ons sommer naweke die trein vat Hillbrow toe en in sy woonstel oorslaap vir ons wonderlike Hillbrow avonture. Daar het ons boekwinkels en plate winkels besoek en skaak gespeel het in die koffiehuise tot laat in die nag en in die dag met Hare Krishnas gesels op die vlooimark. Partykeer het jou pa ons in sy bakkie teruggery Pretoria toe. Jou pa moes baie vertroue gehad het in ons vermoeëns om ons eie pad te vind in die lewe self al was dit die Hllbrow van die tagtigs, nie vandag se Hillbrow nie. Jou pa was ook die een wat ons wonderlike Franse vakansie laat gebeur het toe ons klaar was met skool. Ons het in Parys vir weke in die spaarkamer gebly in ‘n reuse apartement op die boonste vloer by sy glamorous vriendin met haar vreeslike indrukweklike witgrys Thatcher-haarkapsel, was dit madame Garnier-machin? En toe het ons rondgetoer met sy snaakse vriend monsieur Beaupré wat ons sy “deux Negresses” genoem het en ons al die oudste katedrale wou wys en ons Calvados en lemonskil sjokolades laat ontdek het en ons na ‘n katolieke diens in Latyn geneem het vir Krismis. Ek wonder of iemand nog die stories kan vertel van hoe jou pa al hierdie eksentrieke mense ontmoet het? Op 18 het hulle meer gevoel soos karakters uit ‘n Tintin boek as soos gewone mense by die huis. Ek was ‘n tiener en het nie met jou pa se politiek saamgestem nie en onthou hoe ek hom eenkeer aangevat het oor sy obsessie met Afrikaner kultuur – en hy het iets gesê wat my nog bybly. Dit was dat dit nie Afrikaner kultuur was nie maar kultuur, en dat kultuur belangrik is omdat dit aanhou al is ‘n mens nie meer daar nie en dat dit ‘n manier is om met die toekoms te kommunikeer. En ek weet dat die kuns en kultuur wat julle maak – jy en Jacques en julle briljante kinders - ‘n brug is tussen hom en julle en die toekoms. Ek is hartseer om te hoor Heinrich is nie meer daar nie, maar ek voel hom nog klavier speel erens om die hoek, waar mens dalk per toeval op hom gaan afkom, of dalk sal hy dan voor ons op hom kan afkom soos ‘n uil wegverdwyn in ‘n stille vladder en net die musiek sal agterbly.
Alette Schoon
***
Die laaste verjaarsdag
My Mom passed away on 13 August 2020. Her birthday is the 30th of December which we had celebrated, in a manner of speaking, in December 2019. My visit to her the day before her birthday was a joyous one as she was lucid and in very good spirits, and I looked forward to celebrating her 89th birthday with her the next day. However her dementia had re-surfaced with some severity and her birthday was somewhat of a let-down.
I recall saying to the frail care staff that on any good day in December 2020 we would celebrate her birthday. It was not to be.
In July 2021 Catherine asked me to take a cake to her Dad for his 95 birthday on the 20th. She could only come down two days later. If I remember correctly it was a chocolate caramel cake, and I arranged my Mom’s unused candles on it. Together with Blessing who made and brought the tea, side plates and cake forks we entered the bedroom. Oom Hein, who was smiling broadly, was clearly very happy all our arrangements.
On being asked if he wanted to blow out the candles – he did so with gusto. I can assure you that there was absolutely nothing wrong with Oom Hein’s lungs - he drew in a huge breath and essentially snuffed out all the candles – except one – the latter being immediately despatched.
Blessing and I spent a lovely half hour with Oom Hein who had enjoyed one and half pieces of cake and was clearly very happy and content.
On returning to my home it occurred to me that while I was not able to share that last birthday with my Mom I was fortunate to be part of Oom Hein’s birthday celebrations, it meant a lot to me.
Leslie Saunders
***
Oom Hein
Meer as 30jaar gelede het oom Hein en Tannie Anna in my lewe ingestap met Stoffel ....en heelwat later met Basjan. Ons lewens sou verder vorentoe soos kantwerk inmekaar gevleg – alle aspekte soos liefde vir diere, natuur, kuns en musiek.
Oom Hein (en tannie Anna) het my lewe gevul met sy grootse wese vol wysheid, leiding in uiters moeilike persoonlike tye in my lewe. Ons deurentyd wedersydse liefde respek vir mekaar gehad. Hy was my lopende ensiklopedie wat so dikwels meer detail as professor Google kon verskaf .
Oom Hein was my sielsgenoot om kunsflieks, klassieke musiek konserte te kon waardeer. Saam het ons menige Unisa internasionale kompetisies deurgesit, geanaliseer en veral ongelooflik geniet.
NP Van Wyk Louw was ons beide se gunsteling digter. Ons het dikwels saam verskeie dele van ons land besoek. Elke rit na die Drakensberge en Bakabung is omgesing - een afrikaanse liedjie na die ander. Hy het uit volle bors gesing met sy mooi stem en lank nadat die musiek weggesterf het, het hy die deuntjies laat voortleef deur n neurie of soms n fluit serenade daarvan.
Oom Hein , n reus is van ons weggeneem......so baie dankie dat jy vir my so dikwels die “diep donker groewe van die menslike brein” (NP Van Wyk Louw - Germanicus ) verklaar het. Laat berus het in soveel situasies in my lewe.
Jy het eenmaal – lank gelede toe jy siek was en ek baie ontsteld was – gesê : “My kind, ek kan nie altyd hier bly nie”. Toe was dit te gou vir my gemoed maar ek wens jou ‘n rustige ewige rus en ek weet jy en tannie Anna is weer gelukkig saam!
Rus sag my vriend en mentor. Ek gaan vir jou n boom in die Drakensberg plant sodat jy vir ewig daar by ons kan kuier.
Liefde
Rina Jonk
***
“ As long as you think of someone, they will never die”
Een dierbare herinnering.
We schrijven 1987 en mijn man Roel en ik hebben zojuist twee jongedames opgehaald in Amsterdam bij de Nederlands-Zuidafrikaanse Vereniging. We zijn een week lang gastouders van twee studentes uit Zuid-Afrika: Catherine Du Toit en Elfra Erasmus. De koffers worden uitgeladen en de dames nemen hun tijdelijk verblijf in ogenschouw. Het eerste wat Catherine zei toen ze de huiskamer betrad: “het lijkt de boekenkast van mijn Pa wel”. Wat wil het toeval? Pa Du Toit is officier en jurist en mijn echtgenoot ook. Direct al een band. In de week die volgde werd een intense vriendschap gesmeed tussen ons en de twee dames. Naast het drukke introductieprogramma was er genoeg tijd voor toeristische uitstapjes. De warme vriendenband is gebleven en tot op de dag van vandaag maken we deel uit van elkaars leven. Daar zijn ook de ouders bij gaan horen. Tijdens onze regelmatige bezoeken aan Zuid-Afrika kwamen we veel over de vloer in Pretoria bij Pa Du Toit, of zoals mijn Roel hem natuurlijk noemde Generaal Du Toit. Gezellige middagen en avonden. Diepgaande gesprekken over diverse onderwerpen. Zijn vele interesses en belezenheid en natuurlijk zijn grote gevoel voor humor maakten dat de bezoekjes steeds te snel voorbij waren. Catherine en ook haar Pa logeerden bij ons als ze in Nederland waren. Het overlijden van mijn echtgenoot Roel deed hem zeer veel verdriet. Ook op mijn latere reizen ging ik natuurlijk altijd naar Pa Du Toit en genoten we van onze warme vriendschap.
Een zeer markant man is van ons heengegaan, maar we zullen altijd van hem blijven houden.
Anne-Lies Eiting
***
HULDEBLYK AAN GENERAAL DU TOIT
Ek het so jaar na Generaal du Toit afgetree het by AMI begin werk en het hom dus nooit persoonlik geken nie. Ek sê persoonlik, maar deur navorsing in die Argiewe van die Departement van Verdediging wat ek gedoen het oor die vroeë geskiedenis van die organisasie, het ek van aspekte te wete gekom wat my net met die grootste ontsag vir ‘n besondere mens gelaat het. Twee aspekte, wat ek glo minder bekend is, staan uit wat ek graag wil deel tot sy nagedagtenis. Aan die einde van die 1960s is die eertydse Buro vir Staatsveiligheid (BOSS) gestig wat tot die ontbinding van AMI gelei het. Daar was allerlei persoonlikhede betrokke en was die voortbestaan van ‘n autonome militêre inligtingsdiens daarmee heen. Genl du Toit is in direkte opdrag van die Kommandant Generaal van die Weermag getaak om ‘n volledige verslag op te stel oor die implikasies hiervan op die weermag sowel as die impak en legitimiteit van die sentralisasie van die totale nasionale inligtingsverantwoordelikheid binne een organisasie wat die gevolg van die stigting van hierdie organisasie was. ‘n Omvattende verslag van Genl du Toit was instrumenteel in die besluit van die Minister van Verdediging, PW Botha, om DMI slegs drie maande later te herstel as ‘n inligtingsdiens binne die SAW en die ontrekking van die MI funksie uit die BOSS.
Na afloop van hierdie gebeure is die Potgieter kommissie, onder leiding van Regter Potgieter, deur die Eerste Minister aangestel om die werksaamhede van die verskillende departementele inligtingsdienste te ondersoek en aanbevelings te maak oor elk se funksies en maandaat. Na die bekendmaking van die verslag is Genl du Toit weer eens aangestel om die verantwoordelikhede van DMI binne die inligtingsgemeenskap te bevestig. Sentraal in die funksies van DMI, onder sy bevestiging hiervan, was die mandaat om buitelandse politieke inligting in te samel wat noodsaaklik is vir die bedryf van strategiese militêre inligting sowel as die mandaat om koverte insameling, wat deur die Potgieter kommissie aan AMI ontneem is, onder bepaalde omstandighede uit te voer. Verdermeer die skakeling deur DMI met ander binnelandse inligtingsdienste wat sy insig weerspieël oor die noodsaaklikheid vir die gekoordineerde bedryf van inligting binne die RSA.
Hierdie is slegs twee aspekte wat my onder die diepe besef gebring het van die sentrale rol wat Generaal du Toit gespeel het in die vroeë, soms stormagtige, beginjare van AMI. Uit al die navorsing, en hierdie is slegs twee, is die beeld van ‘n persoon met ‘n indrukwekkende werksvermoë, uitgebreide kennis en toegewydheid tot sy taak.
Chris Pheiffer
Kolonel (afg)
***
`n Huldeblyk aan Lt Genl Hein Du Toit
Met Hein du Toit se doodsberig dink ek terug aan die tye wat ek kontak met hom gehad het.
Ek het vroeër al van hom bewus geword toe hy as heraldikus in die S A weermag bekend was. Alle kentekens, vlae, wimpels en skouerflappe se ontwerp is na hom verwys vir kommentaar en goedkeuring. Sy oordeel is nooit, sover ek weet, in twyfel getrek nie.
Hoewel hy vroeëer hoofsaaklik as akademikus bekend was, is hy ingelyf in die meer profes-sionele militêre bedryf toe hy vir die leerstafkursus in 1962 benoem is. Die kursus wat bykans `n jaar geduur het, het hy saam met ons ander operasionele militariste wat ook selektief vir die kursus genomineer is, sukselvol bygewoon.
Vir sekere take wat ons as studente moes uitvoer is ons in sindikate ingedeel. Elke sindikaat moes `n enkele produk vir beoordeling teen `n bepaalde beperkte tyd inhandig. Daar was dikwels `n groot geskarrel om die finale produk voor die spertyd in te dien. Spanwerk en spoed was meesal `n vereiste, laat indienings het teen ons getel.
Ons was altyd verheug as Hein ook as lid van ons sindikaat ingedeel is. Hy was heel tuis in ons vakgebied al was hy nie in die operasionele bestel van soldaatwees onderleg nie. Die rede vir ons blydskap oor sy insluiting was dat hy taalkundig onderleg was, maar veral ook omdat hy die finale produk met die tikmasjien blitsig te boek kon stel en die finale produk betyds in die kontrolekas besorg het.
Origens was hy `n goeie kameraad wat hom heelhartig daaraan gewy het om by die kursus te baat; wat later daartoe gelei het dat hy in rang verder gevorder het en in sleutelposisies aangestel is, waar sy goeie oordeel en lojaliteit tot voordeel van die S A Weermag gestrek het.
My medelye en groete,
Dirk R Marais
N.S. Van ons kursusgangers is nou nog net drie in lewende lywe, waarvan ek een is.
***
Meer manne van sy soort
My opregte simpatie met jou pa se dood. Ek wéét wat dit beteken en wat dit aan mens doen, al kom dit nie onverwags nie. Ek het baie aan jou en jou pa Hein gedink terwyl ek die lywige onlangse biografie van Pik Botha gelees het met jou pa se uitgesproke stellings oor dié man. Ek was met die lees al taamlik seker dit moet jou pa wees, maar het probeer seker maak en boeke opgespoor waar ek fotos van hom gekry het – onmiskenbaar jou pa, onmiskenbaar jy sy dogter! Na my oordeel het jy rede om trots te wees op hom. Ek wens daar was in hierdie dae meer manne van sy soort hier rond!
Professor Rainer Kussler