Beknopte loopbaanopsomming
Luitenant Generaal Heinrich de Villefort du Toit SSA SM (20 Julie 1926-25 Augustus 2021) was Hoof van Stafinligting voordat hy by die RAU die leerstoel in Nasionale Strategie beklee het tot sy aftrede.
Hy het by die Weermag aangesluit in 1953. Teen 1964, was hy ‘n stafoffisier in Militêre Inligting (AMI) en hy is in 1966 as assistant-direkteur aangestel. Op 19 Julie 1971 het hy die direkteur geword van AMI, ‘n posisie wat hy beklee het tot 30 April 1974 toe die direkteursposisie herbenoem is as Hoof van Stafinligting. Hierdie posisie het hy beklee tot sy uittrede uit die Weermag op 31 Desember 1977. Hy het ‘n verskeidenheid posisies beklee wat sy belangstelling en kundigheid reflekteer; o.a. as historikus, staatsargivaris, hoof van die biblioteekraad en heraldikus. Na sy uittrede uit die SAW het hy as voorsitter van die Raad vir Heraldiek van Suid-Afrika opgetree tot 1995. Hy was ook Professor van Strategiese Studies, ‘n studierigting wat hy ingestel het, aan die RAU.
Dekorasies
- Ster van Suid-Afrika, Goud (SSA) vir buitengewoon voortreflike diens.
- Suiderkruismedalje (SM) vir buitengewone pligsgetrouheid.
- Medalje vir Troue Diens in die Staande Mag (20 jr)
Beknopte eie lewensloop in kenmerkende telegramstyl
Heinrich de Villefort du Toit is gebore op 20 Julie 1926 te Bourkestraat 99, Sunnyside, Pretoria. Gedoop deur dr D.J. Keet, leraar van Pretoria-Oos gemeente in die Sunnysidesaal op die hoek van Troye en Esselenstrate. Voor die Ooskerk gebou is, het die gemeente in dié saal kerk gehou. Aangeneem in die Ooskerk in 1942 na katkesasie deur dr Wm Nicol en dr PFD Weiss. Voorgestel in die Sunnysidesaal waarin die nuut afgestigde gemeente Bronberg met leraar dr HAD du Toit toe hulle dienste gehou het. Doen diens as diaken in die gemeente. Skoolopleiding in die Oosteind en Pretoria-Oos laerskole en die Afrikaanse Hoër Seunskool. Matrikuleer 1943. Studeer in die Regte en Geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, 1943 tot 1949. Assistant-argivaris by die Staatsargief, 1950 tot 1952. Sluit in 1953 by die SAW aan en stig as stafoffisier by die Hoof van die Generale Staf, die Onderafdeling Militêre Geskiedenis. Doen ‘n uitgebreide nege-maande studiereis in Europa in 1954 tot 1955. Afgesien van die besoeke aan militêre geskiedenisorganisasies en militêre museums, kry hy ook intensiewe opleiding in heraldiek. As lid van ‘n Kommissie van Ondersoek na die stigting van ‘n amptelike heraldiese organisasie, dien die gegewens wat hy versamel het as grondslag vir die stigting van die Buro vir Heraldiek in Suid-Afrika.
Hy behartig van 1954 tot 1981 bo en behalwe sy gewone pligte as stafoffisier, die weermag se heraldiek. Hy is van 1969 tot 1995 lid van die Raad vir Heraldiek en die heraldiese komitee – die laaste elf jaar as voorsitter.
1956 tot 1957 doseer hy Militêre Reg aan die Militêre Akademie op Stellenbosch. Na voltooiing van die leerstafkursus [bladsy moet teruggevind word…]
Hy was getroud met Anna Ras wat hom in 1987 ontval het. Sy het haar MA graad in Geskiedenis oor die geskiedenis van die bou van die Kasteel voltooi, wat ook in boekvorm verskyn het. Hulle het twee dogters, Nini en Catherine. Nini is getroud met Frik Nel en het haar vader twee kleinseuns besorg. Catherine is nog ongetroud en voltooi tans haar doktorsgraad in Franse letterkunde in Angers, Frankryk. (Intussen het Catherine ‘n kleinseun en ‘n kleindogter aan haar vader besorg en is nou ‘n professor in Franse letterkunde…red.) Die familie du Toit woon sedert 1962 onafgebroke te Weavindstraat 30, Colbyn. As jong offisier het Generaal du Toit as diaken in Hartbeesspruitgemeente gedien. Sy moeilike werksomstandighede het dit vir hom onmoontlik gemaak om voor 1999 weer op ‘n kerkraad te dien. Toe hy nog kon, het hy aktief aan sport deelgeneem (atletiek, rugby, tennis, krieket) en stel nog steeds baie belang daarin. Hy is lief vir klassieke musiek en speel self klavier. Hy was lank lid van die Cantare manskoor.