Familie
Boere siele adel
Heinrich de Villefort du Toit was ‘n baie besondere mens met baie hoedanighede – onder meer regsgeleerde, historikus, luitenant-generaal, professor in strategiese studies, argivaris, heraldikus en musikant. As seun, eggenoot, pa, oupa, oom en vriend het hy diep en blywende spore getrap.
Ek het die voorreg gehad om hom as ‘n vriend te leer ken via my vrou Lili wat nooit opgehou het om haar wonderlike ‘Omie’ se lofliedere te besing nie. Soos wat ek hom sedert 1959 algaande al hoe beter leer ken het, het ek besef dat sy nie uit hoofde van lojaliteit en bloedbande hom miskien bietjie ongebalanseerd en te subjektief beoordeel het en steeds beoordeel nie. Allermins. Hy het oor ses dekades in my lewe in statuur bly groei en ek besing saam met Lili al dekades lank sy lofliedere met dieselfde onvoorwaardelike entoesiasme.
Wat ‘n wonderlike vriend was hy nie! Altyd belangstellend, altyd bereid om te luister en altyd in staat om jou op ‘n taktvolle manier die wêreld en jou medemens vanuit ‘n nuwe perspektief te laat sien. Langs hierdie weg glo ek dat hy baie mense se lewens verryk het. Ek kan onomwonde en met dankbaarheid sê dat hy my lewe mateloos verryk het en daarvoor sal ek hom tot my sterwensdag, dankbaar bly.
Wat my miskien die meeste beïndruk het, was sy onwrikbare integriteit. Enige iets wat op grond van goeie etiese norme nie staande kan bly nie, het hy met die minagting verwerp wat dit verdien. As ons dit weer vandag ons strewe kan maak om sy voorbeeld te volg in ons lewens, sal ons sy nalatenskap eer aandoen.
Oom Hein was veral lief vir geskiedenis en sy diepgaande kennis en helder insigte, het hom iemand gemaak na wie mens kon luister, te meer nog, omdat hy amper oor elke onderwerp, veral as dinge te ernstig begin raak, ‘n kostelike staaltjie kon opdiep waarmee hy dikwels selfs meer trefkrag aan sy vertelling, verduideliking of betoog, kon verleen. Dit het altyd gepaard gegaan met ‘n laggie wat amper iets tussen ‘n keelskoonmaak en ‘n glimlag was en altyd met die vonkel in sy oë.
Mooi herinneringe. Dis wat ek van hom in oorvloed het. En dan wil ek tog noem dat my oupa aan moederskant altyd gepraat het van die verskyningsvorms van adel. Geld adel – die Amerikaners; Bloed adel – die Europeërs en dan is daar die rare siele adel wat hy graag by ons Afrikaners wou sien. Ek besef dat min van ons hierdie toets slaag maar ek het altyd oom Hein beskou as die versinnebeelding van Boere siele adel. Mag hy vir die res van ons almal se lewens hierdie opbeurende bron van inspirasie bly. Om sy voorbeeld te volg, kan net goed vir ons eie heil wees.
Gustav Radloff
Stilbaai.
***
Heinrich du Toit. ‘n Huldeblyk.
My oom Hein is dood! Hy was ook my laaste lewende voorsaat. Met sy dood kom ook tot ‘n einde die klein maar gevierde Du Toit-familiegroep, ware Afrikaner-adel. As die jongste van drie kinders, en die enigste seun het hy alleen die Du Toit-naam voortgedra, en dit altyd fier, met trots en waardigheid. Ek, as sy susterskind, het altyd opgekyk na hom vir leiding en rigting en voorbeeld. En hy het my nooit versaak nie!
Omie, soos ons hom genoem het, was ‘n uitsonderlike man in alle opsigte. Hy was hiperintelligent, hy was sterk, selfs baie sterk waar nodig in landsbelang maar terselfdertyd toeganklik en vriendelik vir van die geringste persoon tot staatshoofde, van die bediende of huisvrou tot die hoogste politici en opperbevelvoerders van wêreldmagte. Hy was ‘n ware vriend en vertroueling, ‘n persoon wat by sy beginsels kon staan al kom wat, ‘n mens wat nie geintimideer kon word nie, dapper en onkreukbaar. Hy, wat in sy weermagpos as bevelvoerder van Militêre Inligting ‘n berg geheime met hom saamgedra het, was altyd absoluut diskreet en betroubaar en het altyd opgetree in landsbelang.
Omie was nog veel meer. Hy was so humoristies snaaks, met ‘n droë laggie, amper net ‘n keelgeluid, dat sy kwinkslae steeds voortleef. Hy was altyd baie sportief, musikaal by uitnemendheid, kon die klavier pragtig bespeel met ‘n goeie tenoor sangstem wat gehoor is selfs tot in operauitvoerings. Hy was die ewige student wat dwars deur sy lewe nooit sy lus vir die versameling van kennis prysgegee het nie. Ek onthou hoe ek dikwels as ‘n jong seuntjie langs hom op sy bed gelê het in die stoepkamer van ouma se huis in Bourkestraat,Sunnyside, Pretoria terwyl hy koerante noukeurig lees en dan alles van belang uitknip en versamel. Hierdie belangstelling van hom het lewenslank voortgeduur hoe later, hoe kwater sodat hy uiteindelik ‘n reuse biblioteek opgebou het.
My eerste herrinnering aan oom Hein is vir my nog baie helder. Ek was nog baie klein, dalk drie of vier jaar oud en Omie, 17 jaar ouer, ‘n student aan Tukkies. Ons gesin het by ouma gaan kuier en sy het hom gevra om met sy groot swart trapfiets met my om die blok te ry. Hy laai my, die kind van die plotte, voor op die dwarspyp van sy fiets, hou my mooi vas en daar trek hy met my op ‘n onvergeetlike toertjie deur die strate van Sunnyside. Daardie dag het ek ‘n nuwe held gekry!
‘n Ander geleentheid wat uitstaan in my geheue is toe ek my basiese diensplig verrig het. Halfpad deur die oggend storm die sersant-majoor met groot oë op ons peleton af waar ons besig is om te oefen, tree my aan ,sê ek moet dadelik teruggaan bungalow toe, skoon was en aantrek en twaalfuur by die bevelvoerder se kantoor rapporteer. Ek besef daars nou groot fout. Toe ek aanmeld word ek deur die bevelvoerder in sy kantoor ingenooi, (slegte teken!) en eers toe sien ek hom raak – daar staan Genl. Du Toit in volle militêre uniform. Ek het vir omie my heel beste saluut gegee! Daarna was my aandele in die kamp ook heelwat hoër.
Oom Hein kon so gevat en humoristies wees. Eenmaal gaan hy saam met ons gesin kerk toe. Die predikant kondig af dat ons die oggend met klavierbegeleiding sal moes sing want die orrel is gesluit en die orrelis het die sleutel verloor. Na die diens toe ons uitstap sê hy terloops vir ons oor sy skouer: “Dis nie net die orrel wat die sleutel verloor het nie, die koor het ook!”
En nou is oom Hein nie meer daar nie. Dit is ‘n groot gemis in so baie mense se harte. Ek troos myself daaraan dat die dood nie ‘n donker vreesaanjaende toestand is nie, maar die teendeel; die ewige lewe begín eers ná die dood. Al laat sy dood ‘n yslike leemte in ons harte, die gedagte aan hom sal ons vertroos en sterk tot ons weer ontmoet.
Danie Joubert.
Stilbaai.
***
Omie en Ouma - Mammie en Boetie
Ek het baie van my jong jare in Ouma se Bourkestraat 99 huis deurgebring en het eerstehands die verhouding tussen die twee interessante karakters beleef. Ouma was 'n dame in murg en been en sy het vir Boetie ook so grootgemaak, 'n regte outydse heer. Ek kan nie onthou dat ek hom ooit ongeskik of kwaad gesien het nie. Hy was wel baie definitief oor sy voor en nakeure. Die Boereoorlog het hom na aan die hart gele en hy het tot op die laaste geen tyd gehad vir die 'Joiners' nie. Hy het baie gou vir jou laat verstaan dat die of daai familie 'joiners' was en dus glad nie mense om mee te assosieer nie. Sy taalverbruik was ook onberispelik. Hy het die mooiste Afrikaans gepraat en die een keer wat ons koppe gestamp het, was oor ek 'n woord verkeerd uitgespreek het en nie na hom wou luister nie.
Om in sy geselskap te wees was vir my altyd 'n louter vreugde. Sy droe sin vir humor en sy kug-laggie sal altyd by my bly. Sy algemene kennis, sy begrip van wereldgebeure en sy ongelooflike ondervindinge het hom uniek gemaak. Hy was seker die intelligentste mens wat ek geken het maar hy het nooit sy eie beuel geblaas of enigsins gespog oor wat hy vermag het nie.
Daar is so baie staaltjies wat ek onthou maar gaan net twee uitlig wat vir my die verhouding tussen hom en Mammie so mooi uitgebeeld het.
Hy vertel op 'n dag vir Mammie dat haar familie (die Hammans) afstammelinge was van die Duitse Keisers maar en hier kom die groot maar hulle was aan die 'verkeerde kant van die kombers'. Ouma se reaksie was: 'Boetie jy vertel dit vir niemand nie.'
Hy kom eendag windverwaaid by die Bourkestraat huis in (dit was terwyl hy nog besig was met sy militere opleiding) en vertel vir Mammie hy het 'n hele bataljon soldate met landmyne omring (groot fout). Die oefening was glo dat hy 'n mynveld moes le vir die vyand en hy het dit per ongeluk verkeerd gedoen. Ek kan nie die reaksie onthou nie.
Net nog een staaltjie. Toe hy Luitenant-Generaal was moes hy eenkeer onverwags vanaf Kaapstad na Pretoria gaan. Die weermag of wie ookal reel toe 'n Harvard vliegtuig om hom op te vlieg. Sy storie was dat hy sit in die wagkamer en wag vir die vlieenier. Hier kom so jong man ingedrentel, loop oor na die groot kaart teen die muur, kyk so rukkie aandagtig na die kaart, draai na Omie en se: Ag bogger dit, kom ons vlieg! En toe gee Omie so 'n lag-kuggie.
My musieksmaak is maar eenvoudig en daarom het Omie altyd vir my die sities op Ouma se klavier gespeel, 'n hoogtepunt van my kuier.
Ek gaan hom so verskriklik mis en is net jammer dat my kinders en kleinkinders nie die voorreg gaan he om hierdie besondere mens te ken nie.
Liefde
Lorinda
***
Liefste Omie,
Die voetspore van Omie se lewe sal verewig in ons lewe voortleef.
Die naam “Omie” het ontstaan, omdat ek en my tweeling broer nie Heinrich kon onthou nie. Hy was ook my ma se jonste boetie gewees en dus het Omie” ontstaan en nie Oom soos die gewoonte was nie.
Hy was ’n uitstekende sportman, geskiedkundige (hy kon altyd iets uit die verlede aanhaal en sê jy moet daaruit leer), musikus en harde werker.Die mooiste klavierspel in my jong dae, het deur Sunnyside weergalm as hy gespeel het en almal in verwondering gelaat. Hy en my man, Ed, kon lank oor sport en politiek gesels.
Hy was vreeslik pligsgetrou en het Afrikaans as taal vooropgestel. Hy sou ook mense se loopbane bevorder deur almal aan te moedig om verder te studeer.
Sy hartseer het hy alleen gedra en Niemand ooit beledig nie: ‘n wonderlike eienskap.
Ons dink met liefde en deernis aan Omie en aan al die mooi en soete herinneringe.
Baie liefde
Marguerite
***
Oom Heinrich was ’n “Gentleman”
As ek aan Oom Heinrich dink, sien ek hom sit, netjies aangetrek met blink gepoleerde, swart leer skoene, omring met boeke en koerante.
Hy was 'n belese man.
Tee word uit fyn porselein koppies aangebied. Oom Heinrich was 'n "Gentleman."
By sy voete was daar altyd 'n getroue, groot, vriendelike hond wat hy oor die kop sal streel terwyl hy met jou praat. Hy was lief vir diere.
Hy het 'n fyn sin vir humor gehad en het graag gelag.
Sy kinders en klein kinders was sy trots, en hy het graag vertel van hul prestasies en doen en late.
Hy kon ook pragtig klavier speel en het baie van klassieke musiek gehou.
Ons sal hom baie mis. Dink aan julle almal in die hartseer tyd.
Liefde
Anneliese, Christian, Jonas en Lucas
***
Stories en staaltjies van die verlede
“Wat is die kans?”
Marguerite slaap die aand voor ons troue by Oom Heinrich en Tannie Anna.
Vroeg-oggend stap Tannie Anna in die kamer met ontbyt terwyl Oom Heinrich die troumars op die klavier speel.
Die ouerpare arriveer vir ‘n fotosessie in julle pragtige tuin.
My Pa – Karlie Sack, nou 96 jaar jonk, groet Oom Heinrich en hulle skud blad langer as wat gewoon is. Ja, hulle herken mekaar. Hulle altwee het in Sunnyside grootgeword. Oom Heinrich se ouers se huis was oorkant my Pa se neefs se huis – die Van Der Hovens. Hulle was 4 seuns, en natuurlik het hulle saam met die seun oorkant die pad gespeel. My Pa se neefs was van nature baie avontuurlik.
Pa Karlie het kort-kort by sy neefs gaan speel en Oom Heinrich het natuurlik saam gespeel.
Kan jy nou meer!
Die Polaroidkamera
Ek is in Witbank by my dogter aan huis. Daar is fotos van jou Pa in ons trou album. Jou Pa het die eerste foto van my en Marguerite geneem toe ons uit die kerk uitgestap het met sy Polaroid kamera. Op die onthaal het hy die foto aan ons gegee om saam op wittebrood te neem. Dit was baie besonders.
Tante Sussie, die ma van die stoute Van Der Hovens het Oom Heinrich ook herken en hulle lekker gesels.
Mag Oom Heinrich rustig onder ons Liewe Heer se vlerk inkruip, rustig rus en met ‘n kleurvolle kombers toegemaak word.
Johan Sack
***
’n Ware puris
As mens iemand verloor vir wie jy lief was, moet jy nie leer om sonder hom of haar te leef nie maar om voort te leef met die liefde wat hul agter gelaat het.
Heinrich, "Oom" Heinrich was vir my "Groot": Sterk, intelligent en 'n ware puris vir ons afrikaners.
Eendag vertrek ons akmal op' n reis vry van enige kostes.
Ons moet nie bekommerd wees oor bespreking nie want hierdie vlug is nooit laat nie en jou plek is bevestig.
Ons goeie dade is ons bagasie en ons menslikheid is ons paspoort.
Liefde sal ons visa wees.
Maak dus seker ons reis besigheidsklas na die Hemel.
Ons groet jou Oom Heinrich, en glo jy reis besigheidsklas om jou Abba Vader te ontmoet.
Groete aan jou en die familie wat jou groet op jou Ewige Reis.
Izak du Toit
***
Daar’s nog maar één soos hy
‘n Staaljie wat deur my moeder aan my gedeel is van my oom en naamgenoot. My tantes het probeer om baba Heinrich te laat lag deur allerhande baba taal en gesig trek soos net tantes kan. Oom Heinrich het tot my redding gekom en iets in die trant gesê: “Los die kind tog uit, kan julle nie sien hy is ernstig van geaardheid nie.”
Jan FE Cilliers se gedig oor Generaal de Wet laat my tog dink aan my oom Generaal Heinrich du Toit:
Stil, broers, daar gaan ‘n man verby.
hy groet,
en dis verlaas.
Daar’s nog maar één soos hy;
bekyk hom goed.’
Heinrich Voigt
***
Ek kan as huldeblyk aan julle Pa ;sê, dat van my herinneringe aan hom is dat hy altyd toe ek op skool was- en ‘n student was- tyd gemaak het om met my gesprekke te hê. Hy het my ook saamgenooi om saam met hom op Loftus- hoof -paviljoen kaartjies! - te gaan kyk! Ek was ook by twee geleenthede saam met hom na Geloftedagfeeste toe genooi- hy was eenkeer ‘n spreker op die geleentheid- en hy het my saamgenooi! Ek het dit as ‘n groot eer beskou- ek wat ‘n boytjie van Queenswood Galleries was- en nie ‘n AFFIE was nie! - ek kon toe darem later my eie 2 seuns laat Affies toe gaan! Ek kon toe darem beleef hoekom oom Heinrich altyd so pro- Affies was!
Anton Seris